Haydn in C majeur

Maklik skryf sy ‘n gedig óf ‘n kortverhaal, selfs ‘n roman
met 50 dinge wat sy en jy saam kon doen, saam…
jy as haar…man

Is
Jy die dierbaar wat op haar sal wag
vir wie sy elke dag wil opstaan
met die aller mooiste glimlag?

Is
Jy die een wat haar kan vashou
en al die seer laat verdwyn,
haar pyn onder die son se blink laat skyn?

Is
Jy die man vir wie sy die res van haar lewe wil bystaan
en is jy die man langs haar onder die volmaan?

Sy soek haar Heuningspruitbrug
Met al die plate vol sonskyn

Blink rol weer sag oor haar wang
en sy wens sy kon haar bang
met ‘n reënboog en sonskyn vervang

Sy loop in ‘n doolhof van donker
voel voel vir nóg ‘n deur
haar asem kort en haar hart seer
dan volg ’n gedagte van gister
wat so haar hede beheer

Waar is hy, dié Haydn in C Majeur ?

Sy staan op om weer te probeer
sy stik haar hartspier vas
elke keer moet sy hom self heg
self weer in haar borskas vas las
met die hoop op vernuwing en iemand
wat reg in daardie gat in haar borskas sal pas

so sit sy dan tussen oud en jonk
saam onder een magiese dak van fyn ontwerp
binne die raamwerk van SY groot plan

Viool, Tjello, ‘n bas en klawerspel
so sit sy veilig tussen oud en jonk
omring met klassieke klanke van sag struik
en goud in die môrestond.

dorettepotgieter ©